Pitkos

Verstaan jou kind se Uniekheid

Spreuke 22:6

As ‘n ouer, moedig jy óf jou kind se talente aan, óf jy smoor dit. Die Bybel sê, ‘Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie.’ Dit beteken egter nie dat hulle nooit van die regte pad wat jy vir hulle wys, sal afwyk nie.

Nee, verlossing is die werk van God (sien 1 Korintiërs 3:6). As ‘n ouer hou jy die boog vas, en jou kind is die pyl. Bid dus vir God se hulp om jou kind se sterkpunte en talente te herken, en mik in die rigting waar hy of sy moet gaan. God het klaar jou kind se sterkpunte geprogrammeer, en toe aan jou ‘n agtien jaar lange navorsingsprojek gegee.

Vra jouself af, ‘Wat maak my kind anders?’ Kinderlike neigings voorspel dikwels volwasse vermoëns. Lees hulle. Onderskei hulle. Bevestig hulle. Moedig hulle aan. Dink aan die lewe van Josef. Op sewentien het hy drome en visioene van homself as ‘n leier gehad (sien Genesis 37:2-10).

As ‘n volwassene het hy die drome van Farao uitgelê en op die ou einde die nasie gelei (sien Genesis 40-41). As ‘n seun het Dawid twee sterkpunte gehad: hy kon veg, en hy was musikaal. Later het hy ‘n leeu en ‘n beer doodgemaak (1 Samuel 17:34-38).

Hy kon ook die harp bespeel (sien 1 Samuel 16). Gevegte en musiek het Dawid se volwasse lewe gedomineer, en dis grootliks waarvoor hy vandag onthou word. Strewe daarna om jou kind se uniekheid te verstaan, te waardeer, en te kanaliseer.

Spreuke 22:6

Om jou kind te leer ‘om die regte pad te kies,’ beteken dat jy bewus moet wees van die volgende:

1) Hulle belangstellings. Waarvan hou jou kinders? Syfers? Kleure? Aktiwiteite? Die grootste geskenk wat jy hulle kan gee is nie jou rykdom nie, maar om hulle eie rykdom vir hulle te openbaar.

2) Hulle verhoudings. Watter stelling beskryf jou kind die beste?

a) ‘Almal, volg my.’
b) ‘Ek sal jou laat weet as ek hulp nodig het.’
c) ‘Kan ons dit saam doen?’
d) ‘Sê vir my wat om te doen, en ek sal dit doen.’

Moenie jou alleenkind as afsydig, of jou ekstrovert kind as arrogant beskryf nie. God het hulle so ontwerp. Wat bevredig jou kind? Geniet hulle die reis, of die bestemming? Hou hulle daarvan as dinge netjies is, of om dinge uit te sorteer? Wat een kind geniet, pla ‘n ander kind.

3) Hulle omgewing. ‘n Kaktus floreer onder ander omstandighede as ‘n roosboom. In watter grond groei jou kind? Sommige kinders hou daarvan om aandag te ontvang, terwyl ander in die skare wil wegkruip. Sommige doen goed in toetse, ander struikel as dit by die eksamen kom. Winston Churchill het herhaaldelik vakke op skool gedruip, maar nogtans die geskiedenis verander. Ons kan net uitblink as ons in die regte omgewing is.

4) Hulle sterkpunte. Op twee het Van Cliburn ‘n liedjie op die klavier gespeel, nadat hy gehoor het hoe iemand dit in die kamer langsaan leer. Sy ma het dit opgemerk, hom lesse gegee, en gevolglik het die seun van Kilgore, Texas, die eerste Internasionale Tchaikovsky Klavier Kompetisie in Moskou gewen. Probeer om nie jou kinders te etiketteer voordat jy hulle bestudeer het nie, en vra vir God om jou te help om hulle uniekheid te verstaan.

Spread the Love

Highlighted News: