Kyk Weer

2 Korintiërs 5:16

Wat het Paulus bedoel toe hy geskryf het, ‘Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens ‘n menslike maatstaf nie’? Net dat ons nie moet fokus op ‘n ander gelowige se foute en mislukkings nie, maar dat ons hulle moet probeer sien as ‘n wedergebore siel wat in ‘n aardse liggaam woon..

Die feit is dat hulle deur God vrygespreek is (sien vers 21), en dat hulle daarom die potensiaal het om groot dinge te bereik. Jy moet egter steeds oordeelkundig wees wanneer jy verhoudinge aanknoop. Die verkeerde mense kan jou seermaak, en die regte mense kan jou help.

Dis egter nie jou werk om rond te gaan en mense te keur op grond van jou beperkte kennis van hulle nie. As jy hulle deur God se oë kon sien en weet wat Hy vir hulle beplan, sou jy dalk minder krities en meer vleiend gewees het. In plaas daarvan om op hulle neer te kyk, sal jy begin opkyk na hulle. Jy sal ook jou tyd, liefde en energie in hulle belê.

Hoekom? Omdat wederdiens belangrik vir God is: ‘Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon…’ (Efesiërs 6:8 NLV). Ons gee op op mense, omdat ons nie kan sien wat God sien, of verstaan wat Hy besig is om te doen nie. Hy is ook nog nie klaar met hulle nie, so hou jou oordeel en kritiek vir jouself.

Wat as God jou afgeskryf het as gevolg van die foute wat jy al gemaak het? In plaas daarvan om uit te kyk vir die slegte in mense, kyk uit vir die goeie. Wanneer jy dit vind, vertroetel dit en lok dit uit. Wees gewillig om weer ‘n keer te kyk!

2 Korintiërs 10:7

Paulus maak dit duidelik dat daar kwaliteite in die mense rondom ons is wat ons nog nie ontdek of waargeneem het nie. Die meeste van ons gevolgtrekkings word op beperkte en foutiewe informasie gebaseer. God het kwaliteite in Dawid gesien wat sy eie familie nie eers herken het nie. Vir hulle was hy net ‘n seun wat skape opgepas het.

Toe hy by die slagveld opdaag en aanbied om teen Goliat te veg, het sy oudste broer, Eliab, hom beveel om huis toe te gaan. Binne ure het Dawid egter vir Goliat verslaan en was sy naam op die hele Israel se lippe. Josef se broers het hom vir die droom verwyt wat God hom gegee het en omdat hy hulle pa se witbroodjie was.

Nietemin het Josef die eerste minister van Egipte geword, en op die ou einde vir sy hele familie tydens die hongersnood gesorg. Die les hier te leer is: Wees versigtig hoe jy mense behandel wat jou irriteer! Leer om verby uiterlike voorkoms te kyk.

Onthou jy vir Rut, die slawemeisie wat koringare opgetel het en op die ou einde die baas se vrou geword het? Iemand soos sy kan dalk eendag jou salarisstrokies teken, so seën haar en behandel haar goed. Moet ook nie dat skoonheid jou verblind nie.

Onthou vir Ester en die dwaas Haman, wat die beeldskone meisie wat langs die koning gesit het, onderskat het. Sy het iets geweet wat hy nie het nie; sy het goddelike toegang tot kennis gehad wat haar mense sou red en Haman se ondergang sou beteken. Jy weet nooit regtig wat in iemand anders se kop aangaan nie. Moet hulle nie sommer afskryf nie – kyk weer!

1 Samuel 16:7

Kyk weer na daardie situasie wat jy nie verstaan nie. Dink aan Maria, die maagdelike moeder van Jesus. Sy was op die punt om geboorte te gee aan die Seun van God wat eendag die hele wêreld sal red. Sy het ‘n plek nodig om die aand te bly. Iemand het die geleentheid van ‘n leeftyd!

Ongelukkig lees ons, ‘daar [was] vir hulle geen plek in die herberg… nie’ (Lukas 2:7 NLV). Die geleentheid was daar, maar die herbergiers was te besig, en het nie die deur oopgemaak en die geleentheid aangegryp nie. Kyk weer na daardie situasie wat hopeloos lyk. Dink aan die seun in die skare wat Jesus volg.

Kan jy hom eenkant sien staan? Kyk weer. Sy mandjie bevat vyf broodjies en twee visse – net genoeg vir een persoon. Andreas vra vir Jesus, ‘…wat is dit vir só baie mense?’ (Johannes 6:9 NLV). Toe die Here dit geseën het, was dit egter meer as genoeg vir vyfduisend mense. Kyk weer na die vyand wat lyk of hy nie kan verander nie.

Saulus van Tarsus val jou aan. Hoekom? Omdat hy nog nie sy lewensveranderende ontmoeting met Jesus op die Damaskuspad gehad het nie. God het nog nie vir hom gewys wat jy reeds weet nie, dus is hy passievol oor die verkeerde dinge.

Moenie terugveg nie, en moenie opgee op hom nie. God gaan wonderlike dinge vir hom, en deur hom doen. Dit gebeur selde dat mense is soos hulle aanvanklik voorkom. Niemand hoef dieselfde te bly soos hulle vandag is nie. Wanneer God in hulle lewens begin werk, kan enige iemand handomkeer verander, soms binne ‘n dag se tyd.

Spread the Love

Highlighted News:

No Comments

Be the first to start a conversation